Meer as 600 deelnemers word by die eerste Afrika Droogtekonferensie verwag wat vanaf 15 tot 19 Augustus in Windhoek sal plaasvind.
Die tema is “Die verbetering van veerkragtigheid teen droogte op die Afrika-vasteland”
Die kerndoelwitte van die konferensie is om ’n strategiese raamwerk vir droogtebestuur op te stel wat die veerkragtigheid teen droogtes vir die hele Afrika-vasteland sal verbeter; om streeks- en internasionale aandag op die kwessie te fokus om veerkragtigheid te kan verbeter; behoeftes en tekortkominge sowel as goeie praktyke te identifiseer en vennootskappe en samewerking tussen lande te versterk.
Die projekkoördineerder het tydens die bekendstelling gesê Afrika is kwesbaar vir die impak van droogtes, wat na verwagting as gevolg van klimaatveranderinge meer dikwels gaan voorkom.
Suider-Afrika is juis kwesbaar vir droogte weens die totale gebrek aan staatshulp vir sukkelende boere, ‘n nuwe verwikkeling onder die ANC wat eerder op “rassisme” fokus. Na verwagting gaan voedselpryse met ten minste 25% styg en 5 miljoen ton mielies sal ingevoer moet word.
“Die kwesbaarheid is beklemtoon deur die voortdurende El Niño-weerverskynsel. Oos-Afrika ervaar die ernstigste droogte in 60 jaar en die Verenigde Nasies (VN) het hongersnood in Somalië verklaar. Suider-Afrika word ook ernstig geraak en die droogte is in Maart vanjaar as ’n streekramp verklaar,” het Kauna Schröder gesê.
“Die groot verwagte uitkoms van die konferensie is ’n strategiese raamwerk om Afrika se veerkragtigheid teen droogtes te verbeter. Dit geniet reeds die volle steun van die Afrika-unie (AU). Ons kan nie resultate hê as ons nie al die feite bymekaar het nie,” het Schröder gesê.
Terselfdertyd soek die ministerie na borgskappe van en vennootskappe met die private sektor ten einde die droogte te verlig.
Schröder het gesê langtermynvennootskappe is ook moontlik op gebiede soos die verbetering van vroeë waarskuwingstelsels vir droogtes in Namibië, die ontwikkeling van versekeringsmeganismes teen droogtes asook water- en energiebesparingstegnologie.
Die Landbounavorsingsraad (LNR) van Suid-Afrika, het op die LNR se voorlegging oor sy strategiese plan tot 2020 aan die Parlement se portefeuljekomitee vir landbou, bosbou en visserye verslag gedoen oor 10 000 pakkies witmieliebaster sade wat in 2014/’15 gratis aan kleinboere in Limpopo, Mpumalanga, Noordwes, die Vrystaat en KwaZulu-Natal uitgedeel is om te toets. (lees meer op praag.co.za)
Die minister van finansies, Pravin Gorhan sê Suid-Afrika moet hom daarop toespits om ekonomiese groei te verbeter en werksgeleenthede te skep. Hy het in ‘n onderhoud met die SAUK gesê Suid-Afrika moet aan die wêreld bewys dat die land in staat is tot ‘n hoër groeikoers as nul-komma-ses persent en dat hy na twee persent groei mik. Verlede week het die graderingsagentskap Standard en Poor’s Suid-Afrika se kredietgradering onveranderd gelaat op een kerf bo rommelstatus. Vroeër het Moody’s ook Suid-Afrika se gradering onveranderd gelaat, terwyl Fitch sy besluit more bekendmaak. Standard en Poor’s het gewaarsku dat politieke onbestendigheid die land se ekonomie kan laat ontspoor en dat dié risiko kan toeneem in die aanloop tot die munisipale verkiesing. Die graderingsagentskap het ook gesê ekonomiese hervormings is nodig om ‘n afgradering in Desember te voorkom.
Groot probleme vir Kroonstad met sy bykans 200 000 inwoners wat hul water-situasie betref. Gerugte dat daar nog net ‘n paar dae se water beskikbaar is, bly ophoop met talle inwoners wat reeds hul huise aan watertenks en boorgate gekoppel het. Spaski Geldenhuys, ’n munisipale raadslid, glo die meeste mense sal nog so twee weke lank water hê, met inwoners van hoogliggende gebiede wat reeds sonder water sit. Volgens Geldenhuys het die munisipaliteit onlangs ’n wal in die Valsrivier gestoot om die water wat nog in die rivier is op te dam sodat dit makliker uitgepomp kan word. By Kroonstad se ou stadsaal word derduisende liters water byna daagliks afgelaai, wat dadelik opgeraap word.
’n Toename in die getal diere wat deur inwendige parasiete besmet is, is in April aangemeld, veral in die gebiede waar laat reën voorgekom het, lui die maandverslag van dieresiekteneigings soos deur Suid Afrikaanse veeartse aangemeld.
Vrektes weens rondewurmbesmetting is ook aangemeld. Boere moet oplet vir tekens van inwendige parasiete, naamlik bloedarmoede, kwakkeel, gewigverlies en diarree. Diere wat weens ’n gebrek aan proteïene en energie onder stres is, is meer vatbaar vir parasiete.
Aangesien wurmweerstandigheid teen baie van die wurmmiddel-groepe, veral rondewurm, toeneem, behoort voorkomende maatreëls teen parasiete gereed te wees.
’n Toename in insek-oorgedraagde siektes is ook aangemeld. Dit is weens die toename van muggies en bytende vlooie, wat die draers van virusse is.
Boere moenie nalaat om hul diere in te ent nie. Goeie reën word vir die volgende reënseisoen voorspel en entstowwe moet vroegtydig bestel word. In die droogte kry kleinvee byvoeding en daar moet seker gemaak word dat hulle teen bloednier ingeënt is, aangesien baie vrektes aangemeld is.
Nuwe brusellose and E.coli-uitbrekings word elke maand aangemeld. Bestudeer die siektes in jou streek en pas jou inentingsprogram daarby aan. Dit is baie belangrik om brusellose te beheer en uit te wis. Die wet bepaal dat alle verse teen die ouderdom van 4 tot 8 maande ingeënt moet wees. Omdat daar geen behandeling vir virussiektes is nie, moet diere met entstowwe beskerm word.
Die landbou-organisasie Afasa sê die regering moet sy grondhervormingsproses in die geheel hersien. Die sekretaris-generaal van Afasa, Aggerey Mahanjana sê die regering moet grondhervorming behoorlik doen of die proses laat vaar. Hy sê tans word die mense wat deur die proses bevoordeel moet word, juis benadeel. Hy sê die begunstigdes kry nie genoeg steun van die regering nie. Hy sê opkomende boere wat plase gekry het, is nou in ‘n swakker posisie as vantevore. Mahanjana sê die boere besit nie die grond nie. Hy sê die boere kan nie geld leen by banke of ander instellings nie, aangesien die plase steeds aan die regering behoort en die begunstigdes die grond net in pag neem.
n Veediefstalsindikaat wat die afgelope twee jaar veeboere in die distrik Steynsrus teister, het weer die afgelope naweek toegeslaan en 23 ooie van sowat R40 000 geslag.
Volgens Niekie Grobler, veiligheidsverteenwoordiger van die distriksboere-unie van Steynsrus, het veediewe vanjaar reeds derduisende rande se skade veroorsaak met een boer wat nou al R500 000 se skade in die afgelope twee jaar gely het.
‘n Nuwe rekord is tydens die jaarlikse Royal-skou karkaskompetisie en -veiling opgestel, toe die wenkarkas in die varkafdeling R95 p/kg opgeveil is. Hoewel die bees- en skaapkarkasse ook reuse pryse behaal het, was dit laer as die rekords in hierdie afdelings.
Die kampioen varkkarkas het behoort aan Glenelly Varkboerdery en het ‘n beoordelingspunt van 92,5% behaal. Kiewiet en Nelius Ferreira van Ferrero Bonsmaras by Harrismith het die kampioen beeskarkas ingeskryf, en ook die kampioenskap vir die groep van vier gewen.
Sernick Bonsmara wat deel is van die Sernick-groep, het hulle 38ste jaarlikse produksieveiling gehou. Nick Serfontein, voorsitter van die Sernick-groep sê die veiling het alle verwagtinge oortref. Die 2015/2016-seisoen was moeilik as gevolg van die droogte, maar die uitslag van die veiling het gewys dat kopers ‘n blink toekoms vir die rooivleisbedryf in Suid-Afrika sien.
Die bul wat die hoogste prys op die veiling behaal het was lot 6 en hy is verkoop vir R200 000. Die gemiddeld vir die 34 bulle was R66 800 tenoor die R42 000 in 2015 en R38 000 in 2014.
Koeie en verse wat hoog dragtig was of met klein kalfies het teen ‘n gemiddeld van R16 220 verkoop en die hoogste prys was R18 800. Koeie wat drie tot vyf maande dragtig is, is verkoop vir ‘n gemiddeld van R13 800 en die hoogste prys was R16 500. Verse wat nie dragtig is nie, is teen gemiddeld R6 800 verkoop met die hoogste prys van R7 600.
Sanparke sê olifantstropery neem toe in die noordelike deel van die Krugerwildtuin. Die hoofwildbewaarder, Nicolas Funda, sê die wildtuin het reeds vanjaar 22 olifante verloor. Hy sê die totale aantal kan vanjaar verdubbel en dat dit moeilik is om die stropery te bekamp. Funda sê daar is bykans 17-duisend olifante in die wildtuin. Volgens hom vind die olifantstropery meestal naby die Mosambiekse grens plaas omdat daar meer olifante is. Olifante word geskiet of vergiftig. In Februarie is 110 aasvoëls dood nadat hulle aan `n vergiftigde olifant gevreet het. Olifantstropery het die laaste paar jaar oral in Afrika toegeneem.
Kommersiële boere het nog R1-miljard nodig om te herstel van die droogte. Al het die departement van landbou glo 80 000 boere met droogteverligting gehelp, is dit volgens Agri SA nie genoeg nie. Die departement het nie besonderhede gegee oor presies hoeveel daar op droogtehulp spandeer is nie. Agri SA het gesê meer geld word benodig en daarom het hulle, hulle eie droogteverligtingsfonds begin.
Die bolugtrog langs die Namibiese kus lyk effe swakker maar is nog steeds sterk genoeg vir ‘n paar druppels oor die woestyn, net druppels want die temperatuur by Lüderitz is bo-kant 20 C so dit kan nou ook nie juis baie reën wees nie. In die noorde en ooste van die land is bewolk vanoggend en daar is kolle met digte mis met baie beperkte sig, ry versigtig. Dan is daar ook ‘n kol mis oor die Kaap vanoggend,. Die res van die land is mooiweer en in meeste gevalle koud en Potchefstroom het weer by sowat -1 C gedraai vanoggend.
Die enigste is die bolugversteuring oor Namibië, sou die ou besluit om oos te skuif, en dit is ‘n moontlikheid sal daar ook ‘n bietjie reën verder oos uitbrei. Die oppervlakte hoog oor die binneland is baie sterk, dus is die kanse, vir nou, baie skraal dat ‘n koue front die Kaap kan bereik, nie dat ek tans een van omvang kan sien nie….
Die 35 Kubaanse ingenieurs wat deur die ANC-bestel se departement van water en sanitasie ingevoer is om as hidrologiese ingenieurs te werk, het die belastingbetaler bykans R20 miljoen uit die sak gejaag. Benewens die feit dat hulle Engelse taallesse moet neem om darem verstaanbaar te kan kommunikeer, verstaan hulle blykbaar nog nie eens die metrieke stelsel nie.
Ons eie water kenners is van die beste in die wereld en het nog altyd ons land se water skoongehou.
Gister baie interresante geprek gehad met ‘n paar jong en middeljarige manne.
Bier van alle soorte is die inding… daar is soveel soorte dat ek dit skaars kan onthou. Die manne kuier oral by die bier plekke en geniet die ingevoerde en plaaslik vervaardigde bier ….die ander ding wat in is.. is ‘n baard..welig en baie mooi versorg met allerhande soorte baardolies..en dit lyk my daar is ‘n hele paar mammies wat van die baard manne hou. ….
..en dan is jagtyd in Suid Afrika en die manne ry wyd om te gaan jag, en kom terug met groot stories en baie vleis, en jy is in as jy ‘n bok of twee in jou vrieskas het, ‘n Hilux Bakkie met tralies en ‘n John Deere embleem op jou bakkie se agterbakklap. ( die beskrywing van die geweer..Savage BA 110 Schmidt en Bender PM11 25x 55 ? scope spoed 2550 FPS.. dit moet ons nie vergeet nie)
‘n Man bly maar ‘n jagter en lyk my as hy eers sy baard laat groei het, kyk hy heel ander plek en jag ook ander plek.
Nuusoorsig Karin Spies.
Source: http://www.farmingportal.co.za/index.php/farmingnews/afrikaans/item/7537-suider-afrika-is-kwesbaar-v