Is jou vleisbeeskudde se speen-persentasie dalk laer as gewoonlik of speen jy dalk ligter kalwers? Die rede daarvoor is waarskynlik dat daar nie na behore in die koeie se voedingsbehoeftes gedurende laatdragtigheid en laktasie voorsien word nie. Dit is die periode wat tans vir die meeste kuddes kwessies veroorsaak, en indien klein regstellings gemaak word kan bogenoemde probleem suksesvol opgelos word.
Uit Tabel 1 is dit duidelik dat koeie se proteïenenergie-behoefte in September vinnig begin toeneem aangesien die groter gedeelte van fetusgroei gedurende die laaste derde van die dragtigheidsperiode plaasvind. Daar teenoor is die proteïen-inhoud van beskikbare weiding gedurende hierdie tyd gewoonlik nog laag hoewel hergroei alreeds begin plaasvind.
Tabel 1
Dit is dus belangrik om deurlopend ʼn proteïen-lek soos Winterlek 40 te voorsien wat onder andere degradeerbare proteïen verskaf sodat daar voldoende stikstof in die rumen beskikbaar is om laag-verteerbare vesel in beskikbare weiding te verteer. Daarbenewens word noodsaaklike makro-minerale by voorbeeld fosfor, asook spoorminerale en vitamiene aangevul.
Met die begin van die kalf-seisoen in Oktober begin die voedingsbehoeftes van die koei drasties styg en hoewel die voedingswaarde van die veld stadig begin verbeter is dit nie naastenby voldoende om aan die voedingsbehoeftes vir laktasie te voldoen nie (Tabel 1).
Melkproduksie van die koei piek gewoonlik na twee maande (Tabel 1) wat beteken dat haar voedingsbehoeftes die heel hoogste gedurende November/Desember sal wees. Dit raak derhalwe dan belangrik om na Produksielek 20 oor te skakel om energie, proteïen en minerale aan te vul. Hierdie praktyk moet volgehou word totdat dit voldoende gereën het.
Vanaf Januarie styg die proteïen-inhoud van weiding vinnig. Daling in NDF (vesel) en lignien-inhoud vind ook plaas wat tot gevolg het dat meer energie vir melk-produksie beskikbaar is. Daarbenewens begin melkproduksie geleidelik daal (Tabel 1).
Die netto-resultaat van hierdie veranderinge in dat natuurlike weiding gewoonliknou in die voedingsbehoeftes van lakterende koeie kan voorsien met die uitsondering van sout en fosfaat. Dis is derhalwe nou raadsaam om van Sernick Produksielek 20 oor te skakel na Soutfos 6.
Dit is belangrik om daar op te let dat fosfor noodsaaklik vir energie-benutting en tesame met kalsium ook noodsaaklik is vir beenvorming. Dit is ook onder Suid-Afrikaanse toestande bewys dat fosfaat-aanvulling vrugbaarheid van koeie dramaties kan verhoog in gebiede waar natuurlike weiding fosfaat-gebrekkig is.
Indien bees ʼn fosfaat-tekort het sal hulle begin om bene in die veld te vreet (Pika) wat kan aanleiding gee tot lamsiekte.
Dit word bereken dat lakterende koeie se fosfor-inname gedurende laktasie so laag as 11g per dag kan wees, terwyl die fosfor-behoefte van lakterende vleisbeeskoeie in die orde van 22g per dag is (Tabel 1). Dit spreek dus vanself dat fosfor gedurende die somer aangevul moet word.
Benewens fosfaat-aanvulling is soutfosfaat-lekke ook noodsaaklik om sout (NaCl) aan te vul. Sout is ʼn essensiële dieet-komponent wat help om waterbalans in die dier se liggaam te handhaaf. Soutbehoefte word in die somer verhoog deurdat sout in die vorm van sweet verlore gaan.
Samevattend moet dit beklemtoon word dat die melkproduksie van die koei die belangrikste faktor is wat speenmassa bepaal en deur strategiese lekaanvulling bestuur kan word.
Rekonsepsie, en gevolglike kalfpersentasie, word grootliks deur die kondisie van die koei met dekking bepaal en kan eweneens met lekaanvulling geoptimaliseer word. Minerale aanvulling kan ook ʼn beduidende positiewe effek op konsepsie hê.
Die lek-keuse word deur ʼn groot verskeidenheid faktore bepaal waarvan die veldtoestand en diere se kondisie die belangrikste is. Kontak gerus u plaaslike Sernick tegniese adviseur vir spesifieke aanbevelings wat spreek tot jou kudde se behoeftes.
2 thoughts on “Strategiese lek-aanvulling gedurende laatdragtigheid & laktasie”
Met die afgelope 2 jaar se baie reen en strawwe winters is die veld se proteien inhoud al baie laag in April en bly laer daal dwars deur die winter. Met speentyd wat eers Mei/Junie is, is n ander benadering nodig
Ek het die jaar met Sernick produksielek teen 1,5 kg per koei einde Maart begin en volgehou tot middel Julie en toe oorgeskakel na n onderhouslek met uitstekende resultate – koeie kalf nou op n 3 punt kondisietelling
Hierdie natuurlik op ons gemengde soet/suur veld sonder reste
Beste Johan – BAIE dankie vir hierdie wonderlike terugvoer! Ons is saam met jou dankbaar vir die resultate! Mag ons dit asb as ’n getuigskrif gebruik?