Dit is met hartseer dat ons kennis gekry van ons groot vriend Schalk Pienaar se skielike afsterwe op Sondag 6 Mei 2018. Sy laaste “whatsup” aan my was nog Sondag om 12h58.
Ek het Schalk ontmoet in 1980 in Mafikeng waar ek as Raadgewende Ingenieur gepraktiseer het. Hy was by die destydse Bophuthatswana Landbou Ontwikkelingskororasie (Agricor) betrokke waar hy later Hoof Uitvoerende Beampte geword het. Afgesien daarvan dat ons ‘n straatblok van mekaar gebly het en ons kinders saam grootgeword het, het ons later groot vriende geword.
Om en by 1995 het ons paaie geskei maar 17 jaar later het ons weer saam Botswana toe gegaan met drie ander groot vriende en die “Dagha Boys” groep gestig wat sedertdien elke dag met mekaar gepraat het.
Schalk was sedert 2010 Voorsitter van Agbiz en het ‘n massiewe rol gespeel in die landbousektor in verskeie leiersposisies.
Ek is bevoorreg dat hy nog so kort as ‘n week gelede op Maandag 30 April by my oornag het en as gasspreker opgetree het op ons Boeredag op 1 Mei waar hy ‘n baie positiewe boodskap gelewer het.
Sy kalmte, wysheid en vêrsiendheid sal baie gemis word dwarsdeur die landbousektor en deur almal wat hom geken het. Ons eer hom as ‘n ongelooflike goeie vriend, broer, en mentor, wat ons lewens verryk het en ons gaan hom baie mis.
Ons simpatie gaan ook uit aan Dailena, al die kinders, kleinkinders en familie. Mag julle vertroosting vind in julle groot verlies. Julle was bevoorreg om hom in julle lewens te kon hê.
Nick Serfontein