Kommersiële landbouers vat hande met finansierders om opkomende landbouers by te staan.
Samewerking tussen kommersiële landbouers en finansierders om opkomende landbouers te ondersteun om kommersiële produsente te word, is onder die kollig geplaas tydens die eerste Nasie in Gesprek sessie tydens Nampo 2017. Daar is veral gefokus op die samewerking tussen die Land Bank en Sernick, terwyl Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, die staat se uitdagings in terme van vestiging van opkomende landbouers uitgewys het.
Zokwana het onder andere opgemerk dat dit belangrik is om op te merk dat om ’n opkomende landbouer te wees ’n fase van ontwikkeling is en nie ’n titel of benaming vir sekere groepe landbouers nie. Verder het hy gesê dat politici landbou nie as ’n speelbal moet gebruik nie. Hy het sy stelling later beaam deur te sê: “Jy kan nie politiek oes nie!” Hy het ook opgelet dat hy hoop dat die benadering wat onder bespreking was en die feit dat beleggings en vennootskappe met opkomende landbouers tans figureer by die ANC se Beleidskonferensie in Desember die jaar bespreek sal word.
Werkbare oplossings
Die Land Bank vat met groot kommersiële boerderye, soos Sernick, hande om meer hefboom-finansiering te bewerkstellig vir vennootskapsooreenkomste met opkomende landbouers wat toegang tot grond het, maar nie noodwendig tot die nodige finansiering vir produksie nie. TP Nchocho, die Land Bank se uitvoerende hoof, het uitgewys dat die bank ’n tweeledige doel vervul, nl; om die groei van die sektor te ondersteun asook om ondersteunend op te tree vir grondhervormings inisiatiewe.
Sernick bedryf so ’n projek, en het die afgelope tyd veral in opleiding vir voornemende opkomende landbouers belê. Die groep het onder meer ’n opleidingsentrum opgerig, en bied teoretiese asook praktiese opleiding. Hulle opkomende landbou vennote het deur middel van Sernick tot die totale res van die waardeketting toegang, soos die groep se voerkraal waar hy kontrakvoeding bedryf.
Een van die punte wat tydens die gesprek uitgestaan het is dat innoverende stelsels ontwerp en oplossings gevind sal moet word vir die unieke omstandighede en uitdagings in Suid-Afrikaanse landbou finansiering. Daar bestaan genoeg boublokke in die bedryf om sulke stelsels en oplossings volhoubaar en toeganklik te maak vir landbouers en nuwe toetreders.
200 landbouers staan reg
Serfontein het in die paneelbespreking gesê hy sal oombliklik tot 200 kommersiële landbouers kan mobiliseer om soortgelyke projekte te begin as die finansiering beskikbaar gestel word. “Daar is genoeg ‘good will’ in die bedryf, en landbouers wil help!”
Nchocho het bygevoeg dat daar geen rede is hoekom die Land Bank nie projekte op kommunale grond kan finansier nie. Gemeenskapslede moet net tot langtermyn-huurkontrakte instem. Daar is byvoorbeeld reeds so ’n makadamia-projek op kommunale grond in die Oos-Kaap.
Die primêre beginsel is dat die bank, as uitlener, die versekering wil hê dat die projek só gestruktureer is dat dit heel waarskynlik suksesvol gaan wees, en die bank sy geld gaan terugkry.
Die Land Bank se mandaat is nie om toelaes uit te deel nie, maar om eerder die fasiliteerder van hierdie soort vennootskapsooreenkomste te wees, aldus Nchocho.